
Afrikaans 100 – met klank en trots in Clarens gevier
Op Saterdag 4 Oktober het die Clarens Heritage Association saam met die plaaslike NG Gemeente ’n besonderse byeenkoms aangebied om Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal te vier. Die viering het in die NG Kerk se Krugersaal plaasgevind en was ’n herinnering aan die ryk geskiedenis en volgehoue krag van die taal.
Kate Rok, ’n plaaslike liedjieskrywer en sangeres, het die verrigtinge geopen met haar kenmerkende Teatrale Afrikana-optrede en van haar Afrikaanse hartsliedjies gesing. Haar nuwe album, WEEF, word in November uitgereik en sy het Saterdag liedjies gedeel wat haar van jongs af geïnspireer het. Margie Koster, ook van Clarens, het met klassieke Afrikaanse liedere uit die FAK-boek, waaronder “Al lê die berge nog so blou”, “Boereplaas” en “Op my ou ramkiekie”, ’n gevoel van nostalgie geskep. Haar suiwer stem en emosie het menige trane ontlok.
Die program het verder drie sprekers ingesluit. Johan Blaauw, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut en taalwetenskaplike by die PUK, het verduidelik hoe Bybelvertaling en die Afrikaanse woordelys en spelreëls saamgewerk het om die taal te vestig en te laat groei, veral in die staatsdiens. Prof. Marlies Taljard het met passie oor poësie en klank gepraat en getoon dat Afrikaans steeds soepel en sterk genoeg is om komplekse idees te dra. Sy het verse voorgelees wat die gehoor met nuwe waardering vir die digkuns gevul het. Dr. Coetsee Bester het die gehoor weer hoop gegee met sy realistiese maar bemoedigende boodskap oor die toekoms van Afrikaans in onderwys. Hy het daarop gewys dat, ondanks uitdagings, daar steeds meer as 1 200 Afrikaanse skole in die land bestaan – ’n bewys van volgehoue lewenskrag.
Kate en Margie het die program afgesluit met Koos du Plessis se “Gebed”, ’n gepaste einde aan ’n dag gevul met trots, emosie en gemeenskaplike waardering. Die byeenkoms is deur sowat 50 mense bygewoon, almal met ’n diep liefde vir Afrikaans. Ná afloop het gaste saam koffie gedrink en gesels – die gesprekke het nog lank ná die laaste noot voortgeduur.
Volgens projekbestuurder ds. George van der Merwe was dit “’n eenvoudige, maar besonder betekenisvolle viering wat die hart van die gemeenskap geraak het.” Hy sê die entoesiasme van die sprekers en kunstenaars het “’n nuwe stukrag gegee vir Afrikaans in Clarens.”
Afrikaans 100 – celebrated with sound and spirit in Clarens
On Saturday, 4 October, the Clarens Heritage Association, in partnership with the local Dutch Reformed Church, hosted a special event in the Krugersaal to celebrate 100 years of Afrikaans as an official language. The gathering brought together music, poetry, and meaningful reflection in a warm, community atmosphere.
Singer-songwriter Kate Rok, a proud local, opened the morning with her distinctive Teatrale Afrikana performance, sharing songs that have shaped her life and love for the language. Her upcoming album WEEF, due in November, is an ode to Afrikaans. Fellow Clarens resident Margie Koster followed with timeless favourites from the FAK songbook, including Al lê die berge nog so blou, Boereplaas, and Op my ou ramkiekie. Her clear, emotional voice stirred deep emotion and nostalgia among those present.
Three guest speakers added depth and insight. Johan Blaauw, chair of the South African Translators’ Institute, traced how Bible translation and the early standardisation of Afrikaans helped shape the language’s growth and status, especially within the civil service. Professor Marlies Taljard spoke passionately about poetry and sound, showing that Afrikaans remains flexible and expressive enough to convey complex thought. Her readings reminded many why poetry remains central to the soul of the language. Dr. Coetsee Bester delivered an uplifting yet realistic message about the future of Afrikaans in education, noting that despite political and structural challenges, more than 1,200 Afrikaans schools still operate across South Africa.
Kate and Margie closed the morning with Koos du Plessis’s Gebed – a fitting, heartfelt end to a memorable celebration. Around 50 people attended, describing it as inspiring and deeply personal. After the formalities, guests stayed for coffee and conversation, sharing stories and memories long after the music ended.
Project manager Reverend George van der Merwe said the event “captured the heart of the community.” He added that the enthusiasm of both the speakers and performers “brought new energy and optimism for Afrikaans in Clarens.”






